Obesiteit of vetsug is ‘n mediese toestand waar ‘n persoon soveel vet in die liggaam opgebou het, dat dit sy gesondheid negatief kan beïnvloed. Dit kan aanleiding gee tot gesondheidsprobleme en selfs ‘n korter lewensverwagting.
Obesiteit word bepaal deur die liggaamsmassa-indeks (LMI/BMI) te bereken, en word verder geëvalueer in terme van vetverspreiding via die middellyf-heupverhouding, en totale kardiovaskulêre risikofaktore.
Mense met ‘n liggaamsmassa-indeks (LMI oftewel BMI in Engels) van meer as 30 kg/m2 word as obees beskou.
Bepaling van die LMI (Liggaamsmassa-indeks)

LMI word bereken deur die liggaamsgewig (in kilogram) te deel deur die kwadraat van die lengte in meter.
Oorsake van Vetsug
Vetsug word gewoonlik veroorsaak deur ‘n kombinasie van ‘n buitensporige inname van voedselenergie (te veel eet), gebrek aan oefening en genetiese vatbaarheid. Vetsug is skaars by wilde diere, maar nie ongewoon by mense en troeteldiere nie, wat dikwels oorvoed is en te min beweeg.
Obese mense verbruik deurgaans meer energie as hul slanke eweknieë, vanweë die hoeveelheid energie wat die instandhouding van ‘n groter lyf verg.
In skaars gevalle lê die oorsaak in die gene, endokriene afwykings, medikasie of ‘n geestesteuring, maar daar is min bewyse vir die opvatting dat sommige obese individue min eet en tog as gevolg van ‘n stadige metabolisme swaarder word.
Vetsug is een van die ernstigste gesondheidsprobleme van die 21ste eeu
Vetsug vergroot die risiko op verskillende siektes, onder andere hartsiektes, tipe 2-diabetes, obstruktiewe slaapapnee, sekere vorme van kanker, osteoartritis en asma.
In die middeleeue en die renaissance is vetsug dikwels as ‘n teken van welvaart beskou. Vandag is vetsug is wêreldwyd een van die belangrikste voorkombare doodsoorsake en owerhede beskou dit dan ook as een van die ernstigste gesondheidsprobleme van die 21ste eeu. Veral in die Westerse wêreld gee vetsug vandag aanleiding tot stigmatisasie.
Behandeling
Dieet en oefening is die belangrikste komponente vir die behandeling van vetsug. Die kwaliteit van die dieet kan verbeter word deur minder energiedigte voedsel (met minder vet en suiker) en meer dieetvesel in te neem.
Uiteindelik kan anti-vetsugmedikasie geneem word om eetlus of vetabsorpsie te rem, natuurlik in kombinasie met ‘n gepaste dieet. Wanneer dieet, oefening en medikasie geen effek het nie, kan ‘n maagballon help om gewig te verloor. Hierdeur sal die persoon vinniger versadig voel en die liggaam se vermoë om voedingstowwe op te neem word ingeperk. In uiterste gevalle kan ‘n operasie uitgevoer word om die maaginhoud te verklein en/of die derm te verkort, maar hierdie prosedures is uiters gevaarlik en word selde goedgekeur.
Wikimedia Foundation Wikipedia


Comments are closed.