In die menslike liggaam is die hart normaalweg effe aan die linkerkant of in die middel van die bors geleë, met die grootste deel van die hart wat na die linkerkant lê, onder die borsbeen.
Die hart voel soms asof dit meer links lê as wat werklik die geval is, aangesien die linkerhartvoorkamer sterker is want dit is verantwoordelik vir die bloedtoevoer na die hele liggaam. Die mens se linkerlong is ook kleiner as die regterlong, omdat die hart meer ruimte opneem in die linkerkantse deel van die borskas.
Die hart word omhul deur ‘n sakkie wat bekendstaan as die hartsak (of perikardium) en word omring deur die longe. Die hartsak is ‘n dubbele membraanstruktuur wat ‘n sereuse (waterige) vloeistof bevat wat die wrywing tydens hartsametrekkings verminder. Die apeks is die stomp punt aan die onderkant van die hart wat na die linkerkant uitwyk.
Die binnekant van die hart word verdeel in vier hartkamers. Die twee boonste kamers is die linker- en die regter-atrium en die groter onderste kamers is die linker- en die regter-ventrikel. Bloed van oor die hele liggaam word opgevang in die boonste en die onderste holaar en na die regter-atrium gebring. Die atrium trek saam en pomp hierdie bloed na die regter-ventrikel deur ʼn klein opening in die tussenwand wat die twee kamers van mekaar skei.
Die funksie van die regterkant van die hart is om deoksigeneerde bloed (bloed sonder suurstof) vanaf die liggaam in die regterhartvoorkamer (ook genoem die regteratrium) op te neem en dit deur die regterhartkamer (ook genoem die regterpompkamer) na die longe te pomp. Daar word koolstofdioksied uit die bloed uitgesit en suurstof in die bloed in opgeneem.
‘n Stetoskoop kan regoor die apeks geplaas word om die aantal hartslae te tel. In normale volwassenes weeg die hart ongeveer 250-350 g en is dit ongeveer driekwart die grootte van ‘n gebalde vuis. Harte wat ernstig siek is kan egter tot 1 000 g weeg, as gevolg van hipertrofie.
Anders as enige ander spierweefsel besit die hartspierweefsel die eienskap om outomaties saam te trek en te verslap, sonder prikkels van buite. Die hartspier besit met ander woorde in hoë mate die eienskap van outomatisme.
Al besit die hartspier die eienskap van outomatisme, kan dit op prikkels van buite reageer. Die hele hartspier besit die vermoë om prikkels teen ‘n bepaalde spoed te kan gelei. Die verskillende spiervesels in die hardwand is onderling met mekaar in verbinding deur middel van spierbrûe wat ‘n prikkel dus in staat stel om deur die hele hartspier te versprei.
Die hartsiklus, ook genoem die kardiale siklus, dui op die reeks veranderinge wat daar gedurende een hartklop in die hart plaasvind. Die hart van ‘n gesonde volwasse persoon klop gemiddeld 72 maal per minuut. Elke hartklop duur dus ongeveer 0,8 s. Al die veranderinge moet dus in die bestek van hierdie kort tydperk plaasvind. Die sametrekking van enige deel van die hart word sistool genoem, terwyl die verslapping bekend staan as diastool.
Die algemene diastool is wanneer sowel die atriums as die ventrikels in ‘n toestand van rus verkeer. Gedurende hierdie periode wat ongeveer 0,4 s duur, vloei bloed vanuit die twee vanae cavae em dier vier longare tot in die twee atriums en daarvandaan tot in die ooreenstemmende ventrikels.
Die atriale sistool volg op die algemene diastool. Die sametrekking begin by die sino-atriale knoop en versprei waaiervormig oor die twee atriums sodat hulle feitlik gelyktydig saamtrek.

Klopgeluid
Die hartklop se geluide word veroorsaak deur die sluiting van die mitrale en trikuspidale kleppe (die eerste klop) aan die begin van die saamtrekkingsfase (ook genoem die sistool) en die sluiting van die aortiese en pulmonale kleppe aan die einde van die saamtrekkingsfase (die tweede klop).
Die laaste twee kleppe sluit nie presies gelyktydig nie en ervaarde waarnemers kan hoor dat die tweede klop uit twee komponente bestaan.
Wanneer die kleppe vernou is, of nie volledig sluit nie, of indien daar enige ander vloeihindernisse of abnormale openings tussen die kamers van die hart is, kan ‘n suisgeluid waargeneem word as gevolg van die onstuimige vloei van die bloed.
‘n Persoon se pols, of hartslag, kan aan ‘n aantal slagare in die liggaam gevoel word. Die bekendste is die polsslagaar, maar ander sluit in die halsslagaar, armslagaar, liesslagaar en enkelslagaar.
Bron: Wikimedia Foundation Wikipedia

