Wanneer is koors gevaarlik?

Koors is wanneer ‘n mens se liggaamstemperatuur bo die normale omgewing van 36-37°C styg. Koors is een van die maniere waarop die immuunstelsel probeer om ‘n infeksie te stop. Gewoonlik help die styging in liggaamstemperatuur om ‘n infeksie te bekamp, maar soms styg dit te hoog. Dan is die koors ernstig en kan dit lei tot komplikasies.

Daar is verskillende soorte koors, en dit kan deur baie uiteenlopende faktore veroorsaak word. Van die algemeenste oorsake is egter infeksie deur bakterieë en virusse en daarom berus behandeling van koors dikwels op die identifikasie en bekamping van die oorsaak van die siekte.

Die liggaam se termostaat

Die liggaam produseer warmte deur middel van metaboliese prosesse wat plaasvind in sekere organe en ook spiere. Spiere produseer min warmte in ‘n rustende toestand. Die warmteproduksie by ‘n volwasse man in rus is ongeveer 7,140 kJ per 24 uur, maar tydens harde werk kan dit maklik opskuif na 12,600 kJ of meer. Die warmteproduksie by ʼn vrou is ongeveer 10 tot 15 % minder.

Die liggaam verloor warmte deur uitstraling en verdamping, bv sweetdruppeltjies op die vel.

Warmte word gereguleer deur ‘n temperatuurbeheersentrum in die middelbrein, wat soortgelyk aan ‘n termostaat funksioneer.

Wanneer tree koors in?

Koors volg op ‘n verandering of versteuring in die temperatuurbeheersentrum in die brein. Koorsverwekkende (pirogene) stowwe (afkomstig van mikro-organismes of weefsel wat afbreek) stimuleer die temperatuurbeheersentrum en stel die brein se “termostaat” op ‘n hoër waarde in. ‘n Boodskap gaan na die liggaam uit dat die liggaamstemperatuur verhoog moet word. Die liggaam sal dan alles inspan om hitteverlies te voorkom en hitteproduksie te stimuleer.

  • Die bloedvate van die vel trek saam ten einde so min moontlik warmte af te skei.
  • Hitte kan ook opgewek word deur middel van spiertrekkings, wat koue rillings veroorsaak. Dit kan dus gebeur dat ‘n pasiënt bewe van die koue terwyl sy liggaamstemperatuur hoër as normaal is.

Aan die einde van die koorsperiode geld die omgekeerde. DIe “termostaat” van die temperatuurbeheersentrum word op ‘n laer liggaamstemperatuur ingestel. Die liggaam probeer om nou so gou moontlik van die oortollige hitte ontslae raak.

  • Die pasiënt begin sweet
  • Die bloedvate in die vel rek wyer oop sodat die vel ‘n rooi, gloeiende voorkoms kry. Die pasiënt lyk nou baie siek, hoewel genesing naby is.


Liggaamstemperatuur word gemeet met behulp van ‘n koorsmeter. Die betroubaarste en vinnigste lesings word gemeet in die rektum en die metode word verkies bo temperatuurmeting in die mond of in die oksel. ‘n Persoon het koors wanneer sy liggaamstemperatuur hoër as 38 ˚C is. ‘ntemperatuur van tussen 37 en 38˚C word as effens koorsig beskou


Soorte koors

Sekere siektes vertoon ‘n kemerkende verloop van die koorsreaksie, en daar kan tussen verskillende soorte koors onderskei word.

  • By aanhoudende koors styg die temperatuur tot bokant 39 °C en wissel op ‘n dag met hoogstens 1 graad. Die koors kan verskeie dae of selfs weke duur na gelang van behandeling. Die tipe koors kom voor by tifoïed (buiktifus) waar dit geleidelik styg, by lobêre pneumonie (‘n tipe longontsteking) waar die koors oombliklik kan begin, en by skarlakenkoors.
  • By intermitterende en remitterende koors is die daaglikse temperatuurverskille meer as 1˚C. By remitterende koors daal die temperatuur egter nooit tot onder normaal nie, terwyl daar by intermitterende koors tussenperiodes is wanneer die pasiënt geen koors het nie. ‘n Kombinasie van ‘n hoë temperatuur en diep koorsdalings kom voor by sepse, wat veroorsaak word deur groot hoeveelhede bakterieë en hul toksiene in die bloed en weefsels.
  • ‘n Periodiek terugkerende koors wat ‘n dag duur en dan na ‘n dag of wat herhaaldelik voorkom is weer een van die kenmerke van malaria
  • ‘n Tweefasige koorskurwe waarin die koors na ‘n paar dae daal en dan in volle sterkte terugkeer, kom voor by sekere virussiektes soos pokke, masels en poliomiëlitis. Dit kan ook voorkom by onvoldoende behandeling van bakteriële siektes. Periodiek terugkerende temperatuurstygings met koorsvrye intervalle van dae of weke word sikliese of golwende koors genoem. Dit kom voor by brusellose en by sommige vorme van kanker.
  • Lang periodes van effense koorsigheid kan ʼn aanduiding wees van infeksie in bepaalde dele van die liggaam, veral die keel en mond.

Oorsake van koors (Let Wel: Oorsake van koors is nie beperk tot hierdie voorbeelde nie):

  • ‘n Infeksie veroorsaak deur bakterie BV. griep, waterpokkies of longontsteking.
  • Rumatoïede artritis
  • Oor-blootstelling van die vel aan sonlig (sonbrand of sonsteek) weens blootstelling aan hoë temperature of langdurige strawwe oefening.
  • Amfetamien misbruik
  • Alkohol onttrekking
  • Ooraktiewe skildklierwerking
  • Allergiese reaksies
  • Oorgevoeligheid vir sekere medisyne (geneesmiddelkoors). Die tipe koors word gekenmerk deur ‘n skielike aanvang van ‘n koors van 40 °C of hoër tot 3 weke na die gebruik van ‘n bepaalde geneesmiddel
  • Koors kan ook veroorsaak word deur die stowwe wat tydens die afbraak van groot hoeveelhede proteïene afgegee word. So ‘n grootskaalse afbraak van proteïene kom voor by ernstige brandwonde, groot maag- of ingewandsbloedings, en weens die afsterwe van weefsel in die liggaam weens swak bloedtoevoer (infarksie).

Benewens die koorssiektes wat deur infeksie met bakterieë en virusse veroorsaak word, is daar ook ‘n hele aantal ernstige koorssiektes bekend wat veroorsaak word deur mikroörganismes wat deur bosluise oorgedra word. Voorbeelde hiervan is bosluiskoors, wat in Suid-Afrika goed bekend is, asook die nou verwante terugvalkoors. Albei is akute koorssiektes gekenmerk deur afwisselende periodes van koors met ʼn duurte van 5 tot 10 dae.

Daar is ook ‘n hele aantal oorsake van koors waarby geen infektiewe mikroörganismes betrokke is nie. Afwykings in die brein kan byvoorbeeld ‘n akute koors van tot 42˚C veroorsaak.

Koorsbestryding

In die geval van koors is dit belangrik om so gou moontlik die oorsaak daarvan te identifiseer en te neutraliseer. Daarmee saam kan die koors onderdruk word met behulp van koorswerende middels (antipirektika). Baie van hierdie middels het ook ʼn pynstillende werking.

Die bekendste van hierdie middels is aspirien. Ander middels is fenasetien en parasetamol. AI 3 hierdie stowwe is in die bekendste pynstillers en koorswerende middels verwerk. Die werking van baie van hierdie middels berus moontlik op die remming van die sintese van prostaglandiene, ‘n groep stowwe wat onder meer betrokke kan wees by die stimulasie van die temperatuurbeheersentrum in die brein en by die sintetisering van pynreseptore.

Die verkeerde gebruik van veral aspirien en fenasetien kan egter nadelige gevolge hê. Benewens die middels word daar soms ook van die pirasoloonderivate as koorswerende middels gebruik gemaak. Vanweë die moontlikheid van ernstige newe-effekte moet hierdie middels met groot versigtigheid gebruik word.

Wikimedia Foundation Wikipedia

Scroll to Top