Diabetes mellitus is ‘n metaboliese afwyking wat gekenmerk word deur hiperglukemie (hoë bloedsuiker / -glukose). Dit word suikersiekte in die volksmond genoem, maar daar kan deur die gebruik hiervan verkeerde afleidings gemaak word. Twee sulke afleidings sluit in dat mens die siekte opdoen deur te veel suiker in te neem, en tweedens dat mens geen suiker mag inneem as mens die siekte onder lede het nie.
Diabetes mellitus moet nie verwar word met ander skaars toestande wat ook diabetes genoem word nie, soos bv. diabetes insipidus. Hierdie aandoening veroorsaak dat mense baie meer moet urineer as wat normaal is. Dit kan deur skade aan die nier (nefrogene DI) of hipofise/pituitêre klier (sentrale DI) veroorsaak word. Dit het dus niks te doen met suikersiekte nie.
Hiperglukemie wat voortduur en hoog genoeg is kan glukosurie (glukoseverlies in die urine) veroorsaak, en met verergering lei dit tot poliurie (vermeerderde urinering) asook polidipsie (drink meer as normaal).
Drie hooftipes diabetes
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) erken drie hooftipes diabetes mellitus. Hierdie tipes het soortgelyke tekens en simptome, maar het verskillende oorsake en kom voor in verskillende groepe. Hulle verteenwoordig nie ‘n enkele siekte/toestand nie.
- Tipe 1, dis gewoonlik weens die outo-immuun vernietiging van die insulien-produserende selle – pankreatiese beta-selle.
- Tipe 2 word gekenmerk word deur ‘n wisselende mate van insulienweerstandigheid in die weefsel.
- en gestasionele (swangerskaps-) diabetes (soms tipe 3 genoem). Gestasionele diabetes se oorsaak kan teruggevoer word na die fetale behoefte en moederlike metaboliese beheer.
Risiko’s
Die hoofrisiko’s sluit, behalwe die akute abnormaliteite van bloedglukose, ook kenmerkende langtermyn-komplikasies in. Hieronder tel kardiovaskulêre siekte (dubbele risiko), chroniese nierversaking (die hoofoorsaak van dialise in die ontwikkelde wêreld), retinale skade ( wat tot blindheid kan lei), senuweeskade, mikrovaskulêre skade (insluitend erektiele disfunksie en vertraagde wondgenesing wat kan lei tot gangreen en selfs amputasie).
Diabetes is ‘n ongeneeslike siekte waar die liggaam onvoldoende energie uit glukose (suikers) kan verkry. Glukose kan in die meeste selle (insulien-afhanklike selle) slegs opgeneem word as daar voldoende insulien teenwoordig is en mits daar funksionerende insulien-reseptore op die selle aanwesig is. By diabetes is daar ‘n onderliggende tekort aan insulien of die reseptore is nie sensitief vir insulien nie. Wanneer die glukose nie/onvoldoende in die selle opgeneem word, styg die bloedglukosewaarde – hiperglukemie tree in.
Insulien is die hoof hormoon wat die opname van glukose in die meeste selle vanaf die bloed reguleer (meestal spier- en vetselle, maar nie die selle van die sentrale senuweestelsel nie). ‘n Tekort aan insulien of die onsensitiwiteit van sy reseptore speel ‘n sentrale rol in alle vorme van diabetes mellitus.

Wat is bloedsuiker?
Die meeste van die koolhidrate in voedsel word binne ‘n paar uur na die monosakkaried glukose omgeskakel. Glukose is die hoof-koolhidraat in die bloed. Ander koolhidrate sluit in: vrugtesuiker (fruktose), wat as ‘n sellulêre brandstof gebruik word maar nie na glukose afgebreek word nie en dus nie deelneem aan die beheermeganisme van insulien en glukose nie ; sellulose wat lang kettings glukose is maar nie deur die verteringstelsel verwerk kan word nie.
Wat is insulien?
Insulien word in die bloed vrygestel deur die beta-selle (β-selle) in die pankreas wanneer daar stygende vlakke van bloedglukose voorkom (bv. na ‘n ete). Insulien maak dit vir meeste liggaamselle (ongeveer 2/3 volgens skattings) moontlik om glukose uit die bloed op te neem as brandstof. Dit word dan omgeskakel na ander molekule of word gestoor. Insulien is ook die hoof beheersein vir die omskakeling van glukose (die basiese suiker) na glikogeen vir storing in die lewer en spierselle.
Verlaagde insulienvlakke veroorsaak verminderde vrystelling van insulien uit die beta-selle asook omskakeling van glikogeen na glukose wanneer glukosevlakke afneem.
Hoër insulienvlakke vermeerder vele anaboliese (“opbouende”) prosesse soos selgroei, proteïensintese en die stoor van vette. Insulien is die hoofsein om vele tweerigting-metaboliese prosesse van ‘n kataboliese(“afbrekende”) na ‘n anaboliese rigting te stuur, en omgekeerd.
Wanneer die hoeveelheid beskikbare insulien onvoldoende is, wanneer selle swak op die uitwerking van insulien reageer (insulien-onsensitiwiteit of insulienweerstandigheid, of as die insulien self defektief is, word die glukose nie na behore deur die liggaamselle hanteer of behoorlik in die lewer of spierweefsel gestoor nie. Dit lei na voortdurende hoë glukosevlakke, swak proteïensintese en ander metaboliese afwykings soos asidose.
Verskeie organe word deur ‘n te hoë konsentrasie glukose beïnvloed:
In die niere sal die konsentrasie van die glukose so hoog wees dat nie alle suikers geabsorbeer kan word nie. Daar gaan dus glukose verlore in die urine. Hiermee saam vind groter waterverlies plaas – groter volumes urine word geproduseer: poliurie. Weens die groter urinevolume word die persoon meer dors en drink dan meer: polidipsie.
Aterosklerose versnel in die groter slagare/arteries. Ook die kleiner slagare gaan minder goed funksioneer (mikroangiopatie) wat weer visie nadelig kan raak deur die uitwerking op die retina. In só ‘n geval is dit nodig dat die kliënt na ‘n hospitaal (sekondêre vlak) waar laserterapie gegee sal word, verwys word. Senuwees wat betrokke is by sensasie/gevoel in die ledemate se funksie word ook ingekort. Die gevolg hiervan is ‘n verlies van sensasie in die voete en hande. Ontsteking/infeksie van wonde kom ook meer voor en genesing word in die wiele gery deur die versteurde bloedtoevoer. Al hierdie faktore kan bydra dat voete en soms bene geamputeer moet word.

