Hipertensie

Hipertensie, of hoë bloeddruk, is ‘n mediese toestand waar die bloeddruk chronies verhoog is. Dit word formeel arteriële hipertensie genoem (arterie=slagaar), maar met “hipertensie” word gewoonlik verwys na arteriële hipertensie.

Bloeddruk van 120/80 mm Hg tot 139/89 mm Hg word as “prehipertensie” gedefinieer. Dit is nie ‘n siekte-kategorie nie, maar dui op individue met ‘n verhoogde risiko om hipertensie te ontwikkel.

Hipertensie wat onbehandeld voortduur, is een van die risikofaktore vir beroertes, hartaanvalle (miokardiale infarksies), en arteriële aneurismes en is ook ‘n belangrike oorsaak van chroniese nierversaking.

Met verhoogde bloeddruk styg die kardiovaskulêre risiko (hartkwale). Die punt waarby bloeddruk as hipertensie beskou word is ‘n volgehoue bloeddruk van 140/90 mm Hg (millimeter kwik), in albei arms gemeet.


Bloeddruk-metings varieer soms baie – veral in die spreekkamer – daarom is twee of meer metings nodig om ‘n diagnose van hipertensie te kan stel. Toestande waar bloeddruk meer aggressief behandel word sluit in suikersiekte, chroniese niersiekte, hartversaking, na ‘n hartaanval, beroerte en ook waar risikofaktore vir hartsiekte voorkom.

In pasiënte met diabetes mellitus of niersiekte het studies bepaal dat ‘n bloeddruk bo 130/80 mm Hg as ‘n risiko beskou moet word wat behandeling benodig.


Bron: Wikimedia Foundation Wikipedia

Scroll to Top