Leer ken jou longe

Die longe maak deel uit van die asemhalingstelsel en is die koppelvlak met die bloedsomloopstelsel. Die longe se funksie is om suurstof vanuit die lug met koolstofdioksied in die bloed te ruil, ‘n proses wat respirasie of asemhaling genoem word. Mediese terme wat na die longe verwys begin gewoonlik met pulmo (pulmones, die Latynse woord vir longe).

Wat doen die longe?

Behalwe vir gasuitruiling (respiratoriese funksie) het die longe ook ander belangrike funksies:

  • Reguleer die waterstofioonkonsentrasie
  • Beïnvloed die konsentrasie van biologies aktiewe stowwe in die bloedsomloopstelsel.
  • Filter klein bloedklonte wat in die are vorm uit.
  • Dien as ‘n fisiese laag sagte, skokabsorberende beskerming vir die hart, wat bykans geheel en al deur die longe omvou word.

Die longe omvou die hart

Die longe omvou die hart. Die longe word op sy beurt omvou deur ‘n dubbelwandige longvlies (die pleura) en die borskas (ribbes). Een laag van die longvlies kleef aan die buitekant van die longe, en die buitenste laag is verbind met die borskas. Tussen die twee lae is daar ‘n dun spasie (die borsholte) wat met pleurale vloeistof gevul is (sien pleuritis hieronder). Die twee verskillende lagies laat die binneste en buitenste lae oormekaar te gly. Hierdie speling vorm deel van die longe se beskermingsfunksie.

Longfunksie is jou liggaam se vermoeë om suurstof aan jou liggaam te verskaf

Meeste longsiektes beinvloed longfunksie, en bring kortasemheid (dispnee) mee. Kortasemheid kan tydens rus of inspanning voorkom; dit kan permanent wees of slegs tydens aanvalle van brongitis en asma opgemerk word. In hierdie geval is dit veral die ekspirasie (uitaseming) wat belemmer word. Dit duur langer en gaan met ‘n fluit- of piepgeluid gepaard.

Wanneer die longfunksie erg belemmer is, word die uitruiling van koolsuurgas in verhouding tot suurstof beïnvloed en ‘n tekort aan suurstof in die bloed kan gevolglik ontstaan. Die normale rosige velkleur verdwyn en word met ‘n blou kleur vervang (sianose).

Respiratoriese insuffisiënsie

Verskeie longsiektes kan die longfunksie so ernstig versteur dat dit nie meer moontlik is om ʼn voldoende hoë suurstofspanning in die bloed (en dus in die weefsels) te handhaaf nie. Hierdie toestand staan as respiratoriese insuffisiënsie bekend. Suurstof kan met ʼn suurstofmasker oor die neus en mond toegedien word. By chroniese brongitis word die slym uit die lugweë losgeklop of uitgesuig. Geneesmiddels kan ook voorgeskryf word om die asemhalingsentrum te stimuleer. In noodgevalle kan kunsmatige asemhaling toegepas word.

Simptome van longsiektes en longinfeksies

Die simptome van lugweginfeksies en longsiektes is nie baie spesifiek nie, en is moeilik onderskeibaar by die verskillende siektebeelde. Dit bemoeilik diagnose van ‘n bepaalde siekte. Pyn in die bors kom bv. voor by asma, chroniese brongitis en tydens longontsteking waarby die pleura betrokke is. Die tipe hoes kan ‘n leidraad wees, maar hoes is nie altyd teenwoordig nie.

  • ‘n Prikkelende hoes ontstaan wanneer daar ‘n blokkering (ʼn vreemde voorwerp of ‘n tumor) iewers in die brongioli is.
  • ‘n Produktiewe hoes kom gewoonlik voor tydens ‘n lugweginfeksie. Die opgehoesde speeksel bestaan uit slym, wat soms taai en draderig kan wees en die benoude gevoel veroorsaak. By sommige siektes kan daar bloed en etter in die speeksel wees, bv by ontsteking van die brongusslymvlies, en tuberkulose.

Die geneesheer kan wel veranderings in die longe vind met ‘n stetoskoop of deur op die bors te klop en na die geluid te luister. Ander, meer gespesialiseerde toetse behels sonar, ‘n röntgenondersoek (X-strale) of selfs die inname van ʼn kontrasstof (brongografie).

Komplikasies van lugweginfeksie

Ontsteekte longweefsel is die gevolg van ‘n lugweginfeksie (byvoorbeeld brongitis) wat uitgebrei het. Die longontsteking kan as gevolg van bakterieë of virusse ontstaan. Brongitis en longontsteking kan ongekompliseerd verloop en na behandeling met ‘n antibiotikum heeltemal genees. Ernstige beskadiging van die longweefsel kan soms lei tot bv. ‘n longabses met etter wat in die long ophoop.

Absesse gaan gewoonlik met koors, hoes, asemnood en sianose gepaard. ‘n Abses word met antibiotika of soms chirurgie behandel. Soms is daar geen simptome nie, maar soms kan daar hoesbuie met etter of bloed in die speeksel wees, of die pasiënt kan selfs bloed braak. In ernstige gevalle word groot hoeveelhede speeksel geproduseer en is koors teenwoordig, asook kortasemheid of sianose.

Ander longsiektes

Bykomstig tot lugweginfeksies en die gepaardgaande komplikasies, is daar longsiektes soos pneumo-toraks, asook baie ernstige longsiektes soos longkanker en chroniese respiratoriese insuffisiënsie.

Pleuritis (borsvliesontsteking – die pleurale laag rondom die longe)

Pleuritus is ‘n komplikasie van ‘n lugweginfeksie. Beide droë pleuritis (pleuritis sicca) en nat pleuritis (pleuritis exsudativa, waar vog in die pleura ophoop) kom voor. Talle ander siektes buite die borskas kan pleuritis veroorsaak, maar dit kom veral voor by uitgebreide longontsteking. Ander oorsake van longvliesontsteking is die afsterwe van ‘n stuk longweefsel bv. na ʼn longembolus of agv. ‘n tumor.

Die belangrikste simptoom van pleuritis is ‘n steekpyn wat tydens sug en hoes erger word. Die pyn is die gevolg van die wrywing en oormekaarskuur van die ontsteekte lae van die pleura. ʼn Geneesheer kan die skuurgeluide met behulp van ‘n stetoskoop hoor, of op die borskas klop. As daar vog in dele van die longe is, verander die klank wat hy hoor word wanneer hy die borskas klop.

Pneumotoraks – ook by gesonde jongmense

‘n Pneumotoraks ontstaan gewoonlik spontaan en hoef nie noodwendig deur een of ander longsiekte voorafgegaan te word nie; dit kom veral by jong volwassenes voor. Dit kan ook na bv. chroniese brongitis of die beskadiging van die borskaswand of die longe ontstaan. Pneumotoraks ontstaan wanneer vog – of lug die pleurale holte bereik.

Die pasiënt kla gewoonlik van ʼn akute pyn in die toraks en ‘n toenemende benoudheid. In minder ernstige gevalle word ‘n pynstillende middel en rus in die bed voorgeskryf. Die lug word dan geleidelik deur die liggaamsweefsels opgeneem en die long kan weer herstel.

‘n Gevaarlike komplikasie is spanningspneumotoraks. Wanneer die druk in die pleurale holte verhoog, kan die hart lateraal verplaas word en dan die bloedsomloop belemmer. Dit is ‘n mediese noodgeval en kan meebring dat die pasiënt sterf. Die lug moet met behulp van ‘n naald uit die pleurale holte gesuig word om die pasiënt se lewe te red.

Stof-longsiektes (pneumokoniose)

In gevalle van langdurige blootstelling aan skadelike stowwe vorm bindweefsel in die longblasies (longfibrose). Na jare begin die pasiënt van kortasemheid tydens inspanning, ‘n prikkelende hoes en sianose kla. ‘n Voorbeeld hiervan is mynwerkers wat silikondioksied inasem en pneumokoniose opdoen. Antrakosilikose kom soms voor by mynwerkers wat koolstof inasem. Longfibrose lei tot ernstig versteurde longfunksies (respiratoriese insuffisiënsie).

In Westerse lande neem bronguskarsinoom (bronguskanker) en longkanker al meer voor.

Bronguskanker en Longkanker

In Westerse lande neem bronguskarsinoom (bronguskanker) en longkanker al meer voor. Bronguskanker is ʼn kwaadaardige tumor wat in die brongusslymvlies ontstaan. Daar is verskeie tipes karsinome.

  • Plaveiselkarsinoom (plaveiselselle van die bronguswand) word hoofsaaklik deur skadelike stowwe in die ingeasemde lug veroorsaak.
  • Ongedifferensieerde kleinselkarsinoom (selle van geen spesifieke vorm nie) kom veral by mans voor en word hoofsaaklik deur skadelike stowwe in die ingeasemde lug veroorsaak.
  • Ongedifferensieerde grootselkarsinoom kom in gelyke mate by mans en vroue voor, en oorsake is nog nie ten volle verklaar nie.
  • Adenokarsinoom (selle met ʼn klierstruktuur) kom in gelyke mate by mans en vroue voor, en oorsake is nog nie ten volle verklaar nie.

Die beginstadia van longkanker toon geen simptome nie. Enige afwyking kan in hierdie stadium net deur ‘n röntgenondersoek (X-strale) aangetoon word. Later kan ʼn prikkelende hoes met bloed in die speeksel voorkom. Die pasiënt kan pyn in die bors ondervind en gewigsverlies kan volg.

Metastases (uitsaaiinge, verspreiding) van die kankertoestand kom veral in die lewer, brein, werwels, niere en byniere voor. Die chirurgiese verwydering van die hele tumor tydens die beginstadium is die geskikste behandeling. Indien chirurgie nie meer moontlik is nie, is bestraling en behandeling met geneesmiddels wat seldeling vertraag, die enigste alternatief. Die staking van die rookgewoonte kan die risiko vir longkanker aansienlik verminder.

Wikimedia Foundation Wikipedia

Scroll to Top