Antibiotika – wondermiddel wat versigtig gebruik moet word

‘n Antibiotikum (meervoud: antibiotika) is ‘n geneesmiddel wat bakterieë doodmaak of die groei daarvan vertraag. Antibiotika is ‘n klas van antimikrobes, ‘n groep klein organismes wat ook antivirus-, antiswam- en anti-parasitiese geneesmiddels insluit.

Hulle is relatief skadeloos vir die gasheer en kan daarom gebruik word om besmetting (infeksies) te behandel. Die begrip het oorspronklik slegs na preparate afkomstig van lewende organismes verwys, in teenstelling met “chemoterapeutiese middels” wat suiwer sintetiese produkte is.

Deesdae verwys die begrip “antibiotika” ook na die sintetiese antimikrobes soos bv die sulfageneesmiddels. Antibiotika is klein molekules met ‘n molekulêre massa van minder as 2000. Hulle is nie ensieme nie. Sommige antibiotika word vanaf muf verkry.

Antibiotika teiken die siekte sonder om die gasheer skade aan te doen. Konvensionele antibiotika is nie doeltreffend vir die behandeling van virusse, swamme en ander nie-bakteriese besmettings nie. Die verskillende antibiotika se werking en effektiewiteit teen verskillende soorte bakterieë wissel heelwat.

Antibiotika word in kategorie ingedeel volgens die teikensoort:

  • Nou-spektrum antibiotika teiken slegs besondere soorte bakterieë soos byvoorbeeld Gram-negatiewe of Gram-positiewe bakterieë
  • Breë spektrum antibiotika kan ‘n wye reeks bakterieë beïnvloed.

Antibiotika kan ook geklassifiseer word volgens die organismes waarteen hulle doeltreffend is, en volgens die soort besmetting waarvoor hulle nuttig is. Die doeltreffendheid van indiwiduele antibiotika wissel met:

  • die ligging van die besmetting
  • die vermoë van die antibiotikum om die plek van besmetting te bereik
  • die vermoë van die bakterieë om weerstand teen die antibiotikum te bied of om dit te deaktiveer.

Mondelingse antibiotika is die eenvoudigste benadering. Binne-aars toegediende antibiotika word vir ernstiger gevalle voorbehou. Antibiotika kan soms uitwendig bv aan die vel toegedien word soos in die geval van oogdruppels of salwe.

Antibiotika bekamp siektes deurdat dit die groei van organismes wat siektes veroorsaak, byvoorbeeld bakterieë, verhinder.

Antibiotika bekamp siektes deurdat dit die groei van organismes wat siektes veroorsaak, byvoorbeeld bakterieë, verhinder.

Antibiotika maak nie noodwendig die organismes dood nie, maar keer dat hulle voortplant en versprei. Sommige antibiotika is bakteriedodend terwyl ander slegs verhoed dat die bakterie vermeerder (bakteriostaties) sodat die gasheer se immuniteitstelsel hulle kan oorrompel.

Die eerste antibiotikum is ontdek toe Alexander Fleming in 1928 in Engeland daarin geslaag het om die stof penisillien van ‘n skimmelgewas in die laboratorium te skei. Hierdie ontdekking het tot grootskaalse navorsing gelei en in 1940 kon wetenskaplikes penisillien op groot skaal vir menslike gebruik vervaardig. Baie ander antibiotika is sedertdien ontwikkel en hul bydrae tot die vordering van die mediese wetenskap is van onskatbare waarde.

As ‘n mens die sterftesyfers as gevolg van sekere infeksies voor- en na die ontdekking van antibiotika vergelyk, blyk die belang van antibiotika duidelik. Voor die ontdekking van penisillien het soveel as 85% van die mense wat longontsteking opgedoen het, gesterf.

Werking van antibiotika

Antibiotika werk op verskillende maniere. Sekere antibiotika, soos penisillien, versteur die normale sintese van ‘n bakteriële selwanddeur te verhoed dat die bakterieë normale selwande vorm. As gevolg hiervan gaan die selinhoud van hierdie mikro-organismes verlore en gaan hulle dood.

Ander antibiotika, soos tetrasiklien, eritro­misien, streptomisien en neomisien, versteur weer die bakterieë se normale proteïensintese en verhinder so hul voortplanting.

Nog ‘n ander groep antibiotika tas weer die selmembrane van bakterieë aan.

Antibiotika soos penisillien en streptomisien is slegs teen ‘n paar bakterieë effektief, en daarom noem ons hulle smalspektrum antibiotika. Ander antibiotika, soos tetrasiklien, is doeltreffend teen ‘n wye reeks bakterieë asook sommige fungi en Rickettsias en word dus breëspektrumantibiotika genoem.

Anti­biotika kan met groot sukses gebruik word, omdat dit die bakterieë wat die liggaam aanval, uitwis sonder dat dit die menslike liggaam­selle beskadig. In die algemeen is antibiotika baie veilig. Daar is egter mense wat vir sekere antibiotika oorgevoelig is, met nadelige gevolge. In sulke ge­valle ontvang die persoon dan ‘n ander soort antibiotika sonder enige negatiewe effekte.

Nog ‘n probleem wat met die gebruik van antibiotika te voorskyn gekom het, is die geweldige weerstand wat sommige bakterieë teen sekere antibiotika kan opbou. As gevolg hiervan kan die meeste antibiotika slegs op voorskrif van ‘n dokter verkry word. Hul gebruik word ook beperk tot siektes waarvoor hulle werklik nodig is.

Tipe antibiotikas

Die volgende antibiotika word tans algemeen gebruik: penisillien, bensielpenisillien, fenoksimetiel­ penisillien, ampisillien, fenetisillien, metisillien, tetrasiklien, strepto­misien, chlooramfenikol, eritro­misien, neomisien, polimiksien B, ens.

Streptomisien

Streptomisien is nog ‘n groep breëspektrumantibiotika wat besonder doeltreffend is teen bakterieë wat tering veroorsaak. Die nadeel van hierdie antibiotikum is die feit dat bakterieë vinnig ‘n weerstand daarteen opbou. Streptomisien het ook meer dikwels as penisillien en tetrasiklien ‘n toksiese uitwerking. Die oormatige gebruik van streptomisien kan in sommige gevalle die gehoorsenuwees aantas en as die gebruik daarvan dan nie gestaak word nie, kan die pasiënt moontlik doof word.

Penisillien

Penisillien is veral effektief teen infeksiesiektes wat deur streptokokbakterieë veroorsaak word. Penisillien word gebruik vir die genesing van besmette wonde, pitsere, absesse, akute mangelontsteking, skarlakenkoors, rumatiekkoors, longontsteking, harsingvliesontsteking, beenmurgontsteking, gonorree, sifilis, ens. Penisillien is vroeër gereeld in salwe, oogdruppels, oordruppels en dies meer gebruik, maar as gevolg van die groot weerstand wat bakterieë teen hierdie middels kan opbou, is die wye gebruik daarvan gestaak.

Tetrasiklien

Tetrasiklien is ‘n groep breëspektrum-antibiotika wat ook vir ‘n wye verskeidenheid infeksiesiektes gebruik word. Dit rem bakteriese groei deur proteïensintese te versteur.

Wikimedia Foundation: Wikipedia

Comments are closed.

Scroll to Top