Aansteeklike siektes lê op loer

Van die grootste rampe wat die wêreld nog getref het, was epidemies van aansteeklike siektes en infeksiesiektes. Die Swart Dood ( ‘n pes-epidemie van 1347-1351) het altesame 75 miljoen lewens geëis en tydens die Spaanse Griep van 1918 is 21,5 miljoen mense dood. Die opknapping van higiëniese toestande, die ontwikkeling van antibiotika, en inenting teen siektes, het daartoe gelei dat die meeste aansteeklike siektes nou behandel kan word.

lnfeksies ontstaan wanneer siekte­draende mikro-organismes die liggaam binnedring. Dit geskied gewoonlik deur die slymvlies in die lugweë en minder dikwels deur die vel.

Jou immuniteit

Wanneer ‘n mens met hierdie siektekieme in aanraking kom, sal die weerstandsvermoë van die liggaam bepaal of dit besmet sal word of nie. Die weerstandsvermoë is afhanklik van faktore soos ouderdom, die voedingstoestand, ander siektes (suikersiekte maak o.m. die liggaam baie ontvanklik vir infeksies), die gebruik van medisyne soos byniers-korshormone (wat die liggaam se weerstand teen siektes verlaag), en ten slotte of die persoon dié spesifieke siekte al voorheen onder lede gehad het of nie.

As ‘n mens voorheen die siekte opgedoen het, bou die liggaam ‘n weerstand daarteen op (immuniteit) wat die liggaam tydelik of permanent daarteen kan beskerm.

Inenting teen uiters gevaarlike aansteeklike siektes

Inenting kan immuniteit op ‘n kunsmatige wyse teweeg bring. Van die oomblik dat die liggaam besmet raak tot die verskyning van die eerste siekte simptome, verloop daar ‘n bepaalde periode wat as die ontkiemingstyd bekend staan. Hierdie periode kan een dag of enkele maande lank wees. Die siektesimptome is inderwaarheid ‘n reaksie van die liggaam op die siekte kieme. Die ontkiemingstyd is dus die periode wat die liggaam nodig het om op die infeksie te reageer.

Ten spyte van vordering op alle mediese gebiede is aansteeklike siektes nog steeds die grootste enkele oorsaak van siektes by die mens. Voorbeelde hiervan is griep, verkoues, brongitis (longpypontsteking), derminfeksies en kindersiektes.

Witseerkeel

In 1950 het die siekte witseerkeel in Nederland en België epidemiese afmetings geneem. Deur sistematiese inenting van babas is die siekte omtrent heeltemal uitgewis. Die witseerkeelbakterie Corynebacterium diphteriae dring die liggaam gewoonlik deur die slymvlies van die boonste lugweë binne en veroorsaak daar, ná enkele dae, ‘n ontsteking.

‘n Wit aanpaksel vorm in die keel en veral op die mangels. In ernstige gevalle is daar ook ‘n bloederige afskeiding uit die neus, en die mangels en limfkliere swel op. Babas kan hierdie gevreesde siekte selfs op die veloppervlak van hul naeltjies en geslagsorgane ontwikkel.

Die bakterieë vestig hulIe aan die veloppervlak, maar kan gifstowwe afskei wat verskeie liggaamsorgane kan beskadig. Witseerkeel kan ontsteking van die hartspier, beskadiging van die senustelsel en gevolglik algehele verlamming tot gevolg hê. Om die gifstowwe onskadelik te maak, moet witseerkeel so gou moontlik behandel word deur die nodige hoeveelheid serum teen die siekte in te spuit. Die bakterieë kan daarna met antibiotika behandel word.

Derminfeksies

Ontstekings in die maag- en dermkanaal is gewoonlik te wyte aan infeksiesiektes.’n Hele paar van hierdie siektes kan ernstige gevolge hê.



Buiktifus

Buiktifus (typhus abdominalis febris typhoidea) se ontkiemingstyd is een tot twee weke. Die bakterieë Salmonella typhi kom deur middel van besmette voedsel in die liggaam. Die eerste simptome is ‘n effense koors en dan ‘n baie hoë koers vir etlike weke, wat met ‘n stadige polsslag en tamheid gepàard gaan.

Die bakterie vestig hom gewoonlik in die wande van die dunderm wat dan ernstig ontsteek word. Dit veroorsaak bloederige diarreë (maagwerkings). Buiktifus kan noodlottig wees as dermbloeding intree of in gevalle waar ‘n swerende dermwand in die buikholte bars. Die siekte kan egter suksesvol met antibiotika behandel word.

Verspreiding van buiktifus geskied deur uitskeiding. Hierdie bakterieë word vir maande, en selfs jare ná genesing, nog deur die liggaam uitgeskei. Persoonlike higiëne is van die allergrootste belang om die siekte deeglik te bekamp. Paratifus is ‘n minder ernstige, maar soortgelyke infeksie as buiktifus. Dié siekte gaan met diarreë en braking gepaard.

Disenterie

Disenterie word deur die Shigella bakterie veroorsaak. Hierdie bakterie kom algemeen onder kinders voor. Ná ‘n kort ontkiemingstyd van twee tot sewe dae ontwikkel die persoon maagkrampe, koors en ernstige diarreë. Die ontlasting bevat etter en bloed en die liggaam kan weens die groot vogverlies gou dehidreer (ontwater). Die siekte word hoofsaaklik deur die inname van besmette voedsel oorgedra. Om te herstel, moet die liggaam baie vloeistof inneem en sulfamiddels moet toegedien word.

Cholera

Cholera word deur die bakterie Vibrio cholerae veroorsaak. Die simptome is braking, maagpyn en waterige diarree. Die gevaar van die siekte lê ook in die moontlikheid van dehidrasie. Die siekte word behandel deur die toediening van antibiotika, asook die inname van groot hoeveelhede vloeistof. Cholera word deur besmette water oorgedra en breek meestal in die platteland uit in plekke waar daar onhigienise toestande heers.

Wikimedia Foundation Wikipedia

Comments are closed.

Scroll to Top